The Blend, McGregor Saterdag 1 Julie
Tyd: 2 - 6 pm
Toegang: R 250
The Blend Koffiewinkel, Deli, Wyn-Boutiek maak gereed vir nog `n lekker fees in sy gesellige agtertuin in die lieflike dorpie McGregor. Die eerste Bubbly Fees wat in Maart aangebied was, was `n groot sukses, en die nuwe tema, wat spesiaal gekies is vir `n gevoel van heerlike winter samesyn, is Rooi en Soet- Wyn. Maak gereed om tussen 14h00 en 18h00 fees te vier met van die beste wyne van die omgewing, asook heerlike kos en musiekvermaak deur die gewilde groep The Misty Cliffs.
The Blend se agtertuin is prentjiesmooi met skaduwee van groot akkerbome en vir `n gesellige feesgevoel sal daar ook Bedouin tente opgeslaan wees. Vir diegene wat stiller hoekies verkies sal daar ekstra sitplekke by die aangrensende restaurant the Fat Ladies Arms beskikbaar wees.
Benita Gouws, eienaar van The Blend, sê dat sy en haar span opgewonde is om van die Kaap se beste rooi- en soetwyne vir feesgangers aan te kan bied.“Ons doen baie moeite met die seleksie en daar sal ook`n verskeidenheid kosstalletjies met smullekker etes wees. Kaartjies vir sekere kos-aanbiedinge is by Quicket te koop sodat mens nie lank hoef te wag op die dag van die fees nie.“ Die spyskaart bestaan onder andere uit Beef Bourguignon, Seekos Gumbo, El Churros, Gluwein en meer.”
Feeskaartjies sluit proe-koeponne in, sowel as `n The Blend glas wat jy na die tyd kan huistoe neem. Vir dié wat op die dag die aangewese bestuurders is, is daar ook `n opsie om `n kaartjie met `n glas vir nie-alkoholiese drankies te koop.
Die musiekgroep The Misty Cliffs bestaan uit drie gesoute musikante Nick Turner (Kitaar en Sang), Nick Catto (Baskitaar en Sang) en Matt Catto (Dromme en sang). Dié bekende groep se nuutste enkelsnit “Don’t Complicate it” is hoog bo-aan die lysie van die liedjies wat hulle tydens die fees gaan sing. Nick Catto sê: “Dis `n lekker ligte, prettige liedjie en ons sing dit elke keer met hart en siel. Hoop ons sien julle daar!”
The Blend het sy deure rondom die tyd van die Covid pandemie oopgemaak en is tans een van McGregor se mees gewilde koffiewinkels wat ook `n deli en wyn-boetiek insluit. Benita en haar span bedien daagliks lekker vars koffie en gebak en die deli- en wyn-areas bied net die beste produkte en wyne aan. The Blend strewe daarna om die one-stop-shop vir die mense van McGregor, sowel as besoekers te wees.
McGregor is op die randjie van die Klein-Karoo, min of meer 2 ure se ry vanaf Kaapstad en 22 km buite Robertson. Heerlike sonnige wintersdae en vars koel aande is eie aan die Karoo winter-weer. Dit is die perfekte dorpie vir `n naweek-kuier met pragtige akkommodasie opsies. Wat is nou lekkerder as `n warm kaggelvuur en `n glasie wyn daarbysaam. McGregor bied ook 'n verskeidenheid uitstekende restaurante om van te kies vir ontbyt, middagete en aandete. Aktiwiteite sluit kort staptogte en bergfiets-paaie in of jy kan die talle plaaslike winkels in die hoofpad besoek. Stop by een van die plaaslike kroeë en geniet 'n drankie waar jy altyd met ope arms en die gasvryheid van die dorp se plaaslike mense ontmoet sal word. Daar is ook pottebakkery-ateljees en kunsgallerye om te besoek.
Kaartjies vir die fees is beskikbaar by Quicket https://qkt.io/Oh9C97
Borgskap: The Blend bedank graag vir Chris Steytler van Meridian Realty vir die borgskap van die Publisiteit vir die Red & Sweet Wine Fest.
Liny Kruger
LK Mediabook
082 464 1926
Posbus 159, McGregor, 6708.