My Montagu van toentertyd | [back] |
Deur Madeleine Roux 27/10/2009 Montagu is van besonderse historiese waarde, veral vir my. My oupa Abram Johannes Pretorius was landdros hier in die veertigerjare van 20ste eeu en my moeder Madeleine en haar susters het hier skoolgegaan. Hul boetie Nic was Paarl toe gestuur vir sy opleiding.
Ma vertel dit was sorgvrye dae in die Residensie in Langstraat, nou soos destyds, die tuiste van amptenare van die Departement Justisie. Die kinders het tennis gespeel (Ouma Madeleine was 'n ywerige tennisspeler), in die stil Langstraat fiets gery, formeel aangesit vir etes, gemaak deur die befaamde kok Ai Nettie Pekeur, en het getrou skoolgegaan.
Ma-hulle het winters én somers lang, swart kouse met suspenders gedra. Tot vandag kla Ma (81) oor die vreeslike hitte van swart kouse en bloomers in Februarie, waar die kwik maklik tot 40°C kan styg.
Skoolgaan was 'n heeldagse storie, nie soos nou nie. Agtuur op die banke, middagete vir 'n uur, en dan weer lesse tot 4nm. Sport was hokkie en atletiek vir die meisies & rugby vir die seuntjies.
'n Oorblyfsel van daardie heuglike dae is dat laerskoolkinders tot vandag kaalvoet mag loop, uniforms en al. Besoekers in Montagu vra dikwels of die kinders so arm is dat hulle nie skoene kan bekostig nie ...
Veral Europeërs is geskok deur ons kaalvoet-tradisie. Ons dra nie graag skoene nie. Skoonsuster Nita het haar eie kindjie oor die klippaadjie in Lovers Walk aangemoedig: Stap, my kind, jou voete moet hard word, die somer is nog lank.
Vir 'n stadsmens is Montagu 'n hawe, die mooiste dorp in die hele Wes-Kaap, en vir mense soos ek, die veiligste plek waar ek nog ooit gewoon het. Ons deure het dikwels nie sleutels nie. Ons vergeet om karre snags te sluit. Hekke sonder slotte, vensters sonder tralies.
Daar is misdaad, maar dis min, en die polisiemense ken elkeen in die dorp.
Teen 11nm word Montagu stil. Mense gaan slaap vroeg en staan vroeg op, veral nou, wanneer dit vrugteseisoen is en die dag om 6vm begin.
David Kramer besing ons so mooi: Montagu-u-u-u, ekke drink jou muskadel ...!
4 Comment(s) Sherrill Castley:
John Gelb:
Deona hartman:
Neels N thling:
|